UIT DIE KANTOOR AAN ALLE OUD-LEERDERS
Dit is met baie groot dankbaarheid dat ek hierdie skrywe rig. Die oud-leerders het ons die afgelope twee jaar oorval met saamtrekke en hieruit is uitstekende verhoudings gebou. Baie dankie vir julle toegeneentheid, vriendskap, lojaliteit en vriendelikheid.
Die oud-leerders het ook begin om terug te ploeg in die skool. Die voortuin is dramaties ontwikkel en die kleinsaal se vloer het ‘n gedaantewisseling ondergaan. Tot op datum is R11,960 inbetaal deur oud-leerders sodat ons die hele vloer kan teёl. Hierdie gebaar word geweldig hoog op prys gestel. Baie dankie dat julle jul harte (en beursies) vir jul alma mater oopmaak.
Volgende jaar is ‘n baie groot jaar in President se bestaan. Ons bied die Rooi Rissie Fiёsta aan op Saterdag 5 Maart en wil graag alle oud-leerders na die geleentheid nooi. Soos die naam aandui, is President na 46 jaar steeds aan die brand. Net ‘n kort aptytwekkertjie:
‘n Speelpark vir die jonges; kunsmarkstalletjies; kosstalletjies; ‘n biertuin vir die dorstiges; ‘n motorskou; ‘n modeparade; ‘n wynproe; optrede deur gewilde kunstenaars en nog meer.
Die Matrieks van 1971, 1981, 1986, 1991, 2001 word by voorbaat herinner aan moontlike saamtrekke in 2011. Die organiseerders moet asseblief net gou spring om datums vas te stel en die nodige reёlings met die skoolhoof te tref. Ander groepe is ook welkom om te skakel – die kleinsaaltjie word gratis aan julle beskikbaar gestel vir so ‘n byeenkoms.
Ek neem graag die vrymoedigheid om die volgende saak wat baie swaar op my hart druk, met julle te deel. Ons leerders leef in moeilike en veranderende tye. Die verbrokkeling van die huisgesin, veranderde lewenswaardes as gevolg van wêreldse vryhede, die misbruik van dwelmmiddels, dagga en tik, die toename in misdaad, werkloosheid en die agteruitgang in Christelike lewenswaardes lei daartoe dat ons leerders rigtingloos en verward is. Ons kan nie net toelaat dat jong kinders ten gronde gaan nie. Hierdie jaar is ons bevoorreg om 'n berader, Maynardt, by ons te hê. Ongelukkig is dit maar ‘n karige salaris en daarom neem ek die vrymoedigheid om by julle aan te klop om hulp vir ‘n maandelikse bydrae of enige ander finansiёle bydrae. Glo my, hierdie persoon verrig wondere in ‘n skool. Hy bied geen klasse aan nie, maar is voltyds beskikbaar vir leerders wat in nood verkeer. Hy is ook betrokke by die ACSV, sportafrigting en enige ander terrein waar hy kan help.
Baie dankie dat ek op julle samewerking kan staatmaak. Ons bly mos lewenslank met onverdeelde trou Pressies!
Aan elke oud-Presidenter my mooiste wense vir ‘n besonder geseёnde kersgety. Mag julle lewens weer eens verryk word deur Sy Groot Genade. Mag 2011 ‘n fantastiese jaar wees met groot voorspoed en goeie gesondheid.
Vriendelike Presidenter-groete.
PGH Colyn
SKOOLHOOF