PRESSIE  NUUS  1/2012

 

Ek sit en uitkyk by my kantoorvenster. Watter lafenis om die koel windjie deur die bome te sien waai na so ‘n lekker warm twee weke! Hier by President was dinge die afgelope tyd ook vuurwarm – ons leerders het gewys hoe hulle kan kook op die sportveld, die verhoog en sommer in die klasse ook. Met hierdie skrywe wil ek vir u as ouer of voog sowel as elke Presidenter vertel wat die afgelope tyd by ons skool gebeur het, sowel as watter opwindende dinge op die horison vir ons wag.

Eerstens welkom aan al ons graad 8s en nuwe leerders. Ek vertrou dat julle reeds nesgeskop het en kan getuig van die omgee gevoel in ons skool. Dit was aangenaam om u tydens ons Oueraand op 25 Januarie te kon ontmoet. Ons vertrou dat u ‘n algemene gesig by ons funksies sal word.

Baie geluk aan ons Matrieks van 2011 wat die skool se naam hoog gehou het. ‘n Slaagsyfer van oor die 99% en 62 onderskeidings in verskeie vakke is nie te versmaai nie! As die atletiek ‘n aanduiding is van hoe elke Pressie betrokke gaan raak by sport- en kultuurprogramme beloof dit om ‘n opwindende jaar te wees. ‘n Groot getal leerders het ingeskryf en diegene wat deurgedring het, is reeds hard aan die oefen vir die interskole G4 byeenkoms wat op 6 Februarie (spiesgooi en diskus) te JG Meiring en 8 Februarie te CPUT, Bellville plaasvind. Slegs naasbestaandes van atlete mag die byeenkoms bywoon en kaartjies moet vooraf by die skool gekoop word. Die skool sal op die 8ste Februarie om 12:00 sluit.

‘n Baie geslaagde fondsinsameling is gehou ten bate van ons Netbaltoer wat in die Aprilvakansie plaasvind. U moet nie die volgende vertoning by die Barnyard Teater misloop nie. U sal binnekort meer inligting oor die volgende vertoning ontvang.

Intussen het die PICS (Pressies in Christus) ‘n geslaagde leierskamp gehad en hulle is oorgehaal om ander Pressies deur hul leefstyl te motiveer om by PICS aan te sluit. PICS het ‘n hoogtepunt vir elke kwartaal hierdie jaar.

Teen die tyd as u hierdie berig lees, is die Lollos (soos wat die graad 8s bekend staan) nou heeltemal ingelyf by ons pragtige skool. Met die graad 8 konsert – of is dit nou flopsert? – het hulle gewys waartoe hulle in staat is. Ons vertrou dat hulle ook in die maande wat kom nog hegter as ‘n groep gaan bind.

Die Matrieks is nou reeds voorlopig vir die eindeksamen geregistreer en ons sal matriekouers op hoogte van sake hou soos die jaar vorder. Daar is ‘n lekker Matriek pret- en braaidag op Saterdag 18 Februarie. Ons hoop om AL die matrieks daar te sien . . . en o ja, trek maar ouerige klere vir die geleentheid aan, hoor! Verder het ons ‘n loopbaanuitstalling vir ons Matrieks gereël op Donderdag, 2 Februarie gedurende skooltyd. Vrydag 3 Februarie is “Civvie”-dag. Leerders het die opsie om met gewone klere skool toe te kom mits hulle R10 voor Vrydag inbetaal is.

Dinsdag 7 Februarie vind ons jaarlikse “Flinkdink” algemene kompetisie om 19:00 in die skool se personeelkamer plaas. Die totale prysgeld wat die aand vir die deelnemers op die spel is, beloop R2500 kontant. Enigeen is welkom om die aand by te woon en die vier finaliste te sien dink dat die rook draai. Hierdie kompetisie is deur ons vorige Skoolhoof, mnr. Colyn, begin. Die doel daarvan is om leerders aan te moedig om meer te lees – veral koerante, sodat nie net hul leesvaardigheid verbeter nie, maar ook hul algemene kennis verbreed word. In diė verband doen ons ‘n DRINGENDE beroep op elke ouer om u kind aan te moedig om meer te lees. Kinders sukkel dikwels om te LEER omdat hulle nie behoorlik kan LEES nie. Ons het elke Dinsdag ‘n halfuur Leesperiode waartydens die hele skool lees.

Woensdag 8 Februarie kry die leerders wat hou van ‘n bietjie kultuur, geleentheid om die uitstappie na Maynardville by te woon. Die jaarlikse Shakespeare produksies is nou al ‘n instelling. Belangstellendes moet mnr. La Grange so gou moontlik nader, aangesien sitplekke beperk is.

Cupido slaan niemand oor nie, selfs nie op ‘n skrikkeljaar nie en daarom word elke Pressie aangemoedig om die Valentynsbal op Saterdag 11 Februarie by te woon. Sitplekke is beperk en kaartjies is by me. Stander te koop.

‘n Ander hoogtepunt op ons kalender is die Akademiese Prysuitdeling. Graad 9 tot 12 leerders word tydens hierdie aand beloon vir prestasie op akademiese gebied tydens 2011. Die betrokke leerders en hul ouers sal eersdaags ‘n uitnodiging ontvang.

Die graad 9 – 12 Oueraand vind op Dinsdagaand 21 Februarie om 19:00 in die Grootsaal plaas. Ek rig ‘n ope uitnodiging aan enige ouer om van die geleentheid gebruik te maak. Daar sal ‘n kort inligtingsessie wees waarna ouers ‘n kans gaan kry om persoonlik met van die onderwysers te gesels.

En dan is dit het einde niet. Om die kwartaal mee af te sluit – Mnr. en Mej. President. Meer inligting sal binnekort beskikbaar wees. Pressies het nie net guts nie, maar “looks” ook!

Laastens: ek doen ‘n dringende beroep op elke ouer of voog om ons Beheerliggaamverkiesing op Donderdag 8 Maart om 19:00 by te woon. Ons benodig ouers wat bereid is om van hul tyd en gawes in belang van die skool beskikbaar te stel. Ons benodig ‘n kworum van 15% om met die verkiesing voort te gaan. Komaan ouers – ek vertrou dat u daar sal wees in belang van die toekoms van ons skool. Nominasies begin ‘n week voor die verkiesing en sluit 24 uur voor die verkiesing.

Pressie groete

 

GB ODENDAAL

SKOOLHOOF

 

Die mense wat ‘n verskil maak, is nie die met goeie getuigskrifte nie, maar hulle wat vir ander omgee!